LEES OOK: SA-ekonomie vaar steeds swak, sê Mbeki
Die Nasionale Kredietreguleerder sê dit mis die doel as verbruikers krediet gebruik om winskopies te bekom tydens hierdie komende Swart Vrydag. Die NKR se jongste kwartaalverslag toon die aantal verbruikers met goeie kredietrekords het afgeneem en die getal met ‘n verswakte kredietrekord het weens hoë inflasie en die stand van die ekonomie toegeneem.
Swart Vrydag val tradisioneel op Thanksgiving Day in die Verenigde State van Amerika. Dit is ‘n bemarkingstrategie wat deur kleinhandelaars gebruik word om volumeverkope en ou voorraad te skuif deur pryse drasties te verlaag. Dit is in 2014 in Suid-Afrika bekendgestel deur een van die groot kleinhandelgroepe en het een van die besigste dae in die jaar vir winkels geword.
Die Nasionale Kredietreguleerder se kommunikasie-beampte, Jimmy Golele, sê: “Gegewe die huidige ekonomiese omstandighede, die hoë brandstofkoste, die hoë pryse van byna alles, en die gebrekkige verhogings wat verbruikers oor die jaar gekry het, bly dit ‘n groot vraag of mense na die winkelsentrums sal stroom.” Die NKR het verbruikers versoek om slim inkopies te doen en veilig te wees tydens hul Swart Vrydag-inkopies. “As jy krediet gaan gebruik om goed te koop, mis dit die doel. Die trekpleister vir Swart Vrydag is die afslag wat deur die winkels aangebied word, maar as jy krediet gebruik, dan betaal jy in elk geval rente. Ons herinner verbruikers om kredietvaardig te bly, verstandig te bestee en verstandig te leen,” het Golele bygevoeg.
Ekonoom Dawie Roodt het gesê pryse is oor die algemeen laer, maar hy sal nie verbaas wees as daar gevalle is waar besighede hulle pryse op Swart Vrydag verhoog nie.
#Krediet #BlackFriday #Afrikaans #Nuus #Newsfeed





