WES-KAAP. – Die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (NatJoints) sê alle veiligheidsmaatreëls is in plek om die 2026-staatsrede Donderdag veilig te laat verloop.
President Cyril Ramaphosa sal die staatsrede lewer, van dieselfde plek waar Nelson Mandela sy eerste toespraak aan Suid-Afrikaners gehou het. Die president sal verslag doen oor die regering se prestasies en die program van aksie vir die jaar aandui, met die fokus op politieke, ekonomiese en maatskaplike kwessies. Belangrike prioriteite wat in die staatsrede verwag word, sluit in ekonomiese groei, werkskepping, maatskaplike beskerming, infrastruktuurbelegging en strukturele hervormings onder Operasie Vulindlela.
Brig. Athlenda Mathe en lt.kol Amanda van Wyk, nasionale polisiewoordvoerders, sê die toespraak sal in ’n veilige omgewing plaasvind. Polisie en ander rolspelers is gemobiliseer om misdaad voor, tydens en ná die gebeurtenis te voorkom.
Die lugruim rondom die stadsaal is van 07:00 tot 22:00 vir alle vliegtuie en hommeltuie beperk. Oortreders sal volgens die burgerlugvaartregulasies aangekla word.
Die Stad Kaapstad se vervoerdienste het padsluitings rondom die stadsaal aangekondig. Motoriste word versoek om nie-noodsaaklike ritte in die gebied te beperk en hul roetes vooruit te beplan. Sommige van die padsluitings sal reeds vanaf 7 Februarie tot 28 Februarie 2026 van krag wees. Parkeerplek in sekere gebiede sal ook beperk wees. Slegs persone met geldige akkreditasie mag die gebied betree. Wetsoortredings sal streng hanteer word.
Druk hier om te sien watter paaie beïnvloed word. Lees ‘n verklaring oor die staatsrede deur president Cyril Ramaphosa hier.






