WES-KAAP. – Ses Nigeriërs wat in Suid-Afrika in hegtenis geneem is weens beweerde betrokkenheid by aanlyn-liefdesbedrog, is aan die Verenigde State van Amerika uitgelewer.
Kol. Katlego Mogale, Valke-woordvoerder, sê die Valke het in samewerking met Interpol Suid-Afrika op 11 September die ses mans aan Amerikaanse owerhede oorhandig. Hulle is in die VSA gesoek op aanklagte van elektroniese bedrog en geldwassery.
Perry Osagiede, Collins Owhofasa Otughwor, Osariemen Eric Clement, Musa Mudashiru, Franklyn Edosa Osagiede en Prince Ibeabuchi Mark, word daarvan beskuldig dat hulle lede van die Black Axe- georganiseerde misdaadnetwerk is. Volgens die Valke word die mans daarvan beskuldig dat hulle meer as 100 vroue in die VSA deur aanlyn-liefdesbedrog geteiken en na bewering uit meer as R100 miljoen bedrieg het. Onder die beweerde slagoffers was pensioenarisse en sakelui.
Die ses was deel van agt Nigeriese burgers wat in 2021 ná ’n groot operasie deur die Valke in Suid-Afrika in hegtenis geneem is. Die Kaapse Metropolitaanse-landdroshof het in Februarie 2024 beslis dat hulle aan die VSA uitgelewer kan word. Interpol Suid-Afrika het die ses vanuit ’n korrektiewe fasiliteit in Kaapstad na Kaapstad Internasionale Lughawe begelei, waar hulle aan beamptes van die Federal Bureau of Investigation (FBI) en die United States Secret Service oorhandig is.
Hulle het daarna op ’n vlug van sowat 16 uur na die VSA vertrek. Die Valke sê die uitlewering beklemtoon die samewerking tussen Suid-Afrikaanse en internasionale wetstoepassingsagentskappe in die bekamping van georganiseerde misdaad oor landsgrense heen.