KWAZULU-NATAL. – Tollie Nel (63), ‘n boer en sakeman, is Donderdagaand op sy plaas in Newcastle deur gewapende verdagtes beroof en vermoor.
Kol. Robert Netshiunda sê die polisie in Newcastle ondersoek die moord. Hy sê ‘n man is tydens ‘n aanval op ‘n plaas doodgeskiet. Die verdagtes het met ‘n onbekende bedrag geld en vuurwapens van die toneel gevlug.
Die aanval het tussen 19:00 en 20:00 op die plaas op die R34-pad tussen Newcastle en Utrecht gebeur. ‘n Gesamentlike soektog na die verdagtes is geloods.
Die vyf verdagtes het na bewering balaklawas aangehad toe Nel oorval is. Hulle het te voet gevlug.
Nel se hond, wat beseer is, omdat hy hom tydens die aanval wou beskerm, is deur ‘n plaaslike veearts behandel.
Bronne: SAPD en Newcastle Advertiser





