THOHOYANDOU. – Nog twee verdagtes is in hegtenis geneem vir die moord op ’n ma (34) en haar dogter (2) wie se liggame Woensdag gevind is nadat hulle op 19 Mei as vermis aangemeld is.
Lees ook: Ma en dogter (2) vermoor, verdagtes in hegtenis
’n Man (55) is Vrydag in Hlabeni Block F in hegtenis geneem en ’n verdere ondersoek het gelei na ’n tradisionele geneser (38) wat glo in besit was van die ma en dogter se onthoofde koppe. Die tradisionele geneser is ook in hegtenis geneem.
Tshilidzi Phalandwa (43) en Balangani Sedzani Tshivhombedze (32), die ander twee verdagtes, het Vrydag in die Thohoyandou-landdroshof voorgekom waar die saak vir verdere ondersoek tot 12 Augustus uitgestel is.
Die geneser, wat ook aangekla word van die besit van menslike oorskot, en die ander verdagte (55) sal môre in die Thohoyandou-landdroshof verskyn op ’n aanklag van moord.
Die polisieondersoek duur voort.
Bronne: SAPD





