GAUTENG. – ‘n Brand het vanoggend in WF Nkomostraat, naby Zeilerstraat, Pretoria-Wes, op twee busse uitgebreek. Brandweerdienste van Sentraal en Philip Nel Park het hulle na die toneel gehaas.
Lindsay Zwelithini Mnguni, woordvoerder vir die Stad Tshwane-nooddienste, sê die brandende busse is omstreeks 05:00 aan die nooddienssentrum gerapporteer. Twee brandweerwaens, ‘n video-eenheid en die distriksbevelvoerder is van die dienste wat reageer het.
Met aankoms op die toneel is twee privaat busse aan die kant van die pad geparkeer gevind. Een was heeltemal aan die brand en die vuur was besig om vinnig na die ander bus te versprei. Die brand is suksesvol onder bedwang gebring. Die tweede bus het nie soveel skade soos die eerste een opgedoen nie – slegs die voorruit en spieëltjies is deur die hitte beskadig.
Mnguni sê die SAPD was op die toneel teenwoordig. Geen beserings is as gevolg van die brand aangemeld nie. Die oorsaak van die brand moet nog vasgestel word.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com