Deur Le Roux Schoeman vir Kerkbode
In ’n eerste vir die NG Kerk het drie gemeentes die opsie uitgeoefen om ’n liggaam te stig waar lidmate teologies eerder as geografies verenig binne ’n kerkverband wat dié Vrystaatse gemeentes glo te liberaal is.
“Die aard en karakter (van die nuwe groepering) is ’n behoudende teologie,” luidens ’n skrywe deur leiers in die betrokke gemeentes. “Dit moet ’n teenvoeter wees vir die liberale verstaan van die Skrif, waar waarheid subjektief verstaan word eerder as objektief.”
Die gemeentes staan bekend as die “Teologies-Kategoriale Ring van die Vrystaat”, ’n eerste van sy soort, volgens ds Joe Müller, wat as skriba optree. Ds Ulrich Ohlhoff is die voorsitter. Sewe ander mans was betrokke by die stigting op 13 Junie 2025 by NG Kerk Harrismith, volgens Müller. Die drie gemeentes wat die nuwe ring gevorm het, is NG Harrismith, NG Kroonstad en NG Parys-Suid.
Ohlhoff het per e-pos aan Kerkbode gesê: “Ek dink dit is belangrik om te let dat ons as gemeentes die stigterslede is, maar dat die Vrystaat Sinode die kategoriale ring geskep het … Ons gemeentes het gekies om die opsie uit te oefen en dan die eerste stigters van die ring te word.”
Ds Jan Lubbe, die moderator van die Algemene Sinode het dit by navraag beaam: “Die konstituering van die teologies-kategoriale ring in die NG Kerk Vrystaat, is die uitvloeisel van ’n voorstel van die moderamen aan die buitengewone sinode van die Vrystaat op 3 Oktober 2024. Ons het dit gesien as ’n moontlikheid waarop gemeentes wat dieselfde teologiese oortuiging deel oor byvoorbeeld selfdegeslagverbintenisse, binne ons amptelike kerkordelike bestel, by mekaar ’n tuiste kan vind al deel hulle nie dieselfde geografiese streek nie.”
Steeds deel van die NG Kerk
Die buitengewone sinodesitting in die Vrystaat was een van twee sulke sittings wat in dié streek gehou is om kerkskeuring af te weer. Verskille in die NG Kerk spruit veral uit die 2019 en 2023 Algemene Sinode-besluite oor selfdegeslagverbintenisse. By beide geleenthede het afgevaardigdes besluit dat daar ruimte moet wees “vir kerkrade en predikante wat hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig, asook vir hulle wat nie hulle weg daartoe oopsien nie.”
Die ring is steeds deel van die NG Kerk, maar noem ’n uiteenlopende reeks sake waaroor hulle verskil met beide die Vrystaatse en die Algemene Sinode van die NG Kerk.
LEES DIE VOLLE ARTIKEL GRATIS HIER
Vriende van Kerkbode
Beskerm gratis, betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld.
Jou ondersteuning dra by tot meer konstruktiewe godsdienstige diskoers in die kerk. Wees gerus dat jou bydraes met sorg aangewend word tot die voortsetting van betroubare kerknuus.
Kliek hier en word vandag ’n vriend van Kerkbode.
Nuusflits publiseer advertensies en geborgde inhoud vir bemarkingsdoeleindes. Die sienings en aansprake wat in advertensies geuiter word, weerspieël nie die standpunte van Nuusflits, sy redaksie, of enige van sy affiliasies nie.