POTCHEFSTROOM, NOORDWES. – Die voormalige direkteur van SA Rugby gaan binnekort ’n eredoktorsgraad by die Noordwes-universiteit ontvang.
Die NWU-raad het reeds die besluit tydens ’n algemene vergadering op 16 November 2023 goedgekeur. Volgens Bert Sorgdrager, NWU-raadslid, gaan die eredoktorsgraad aan Erasmus toegeken word as erkenning vir sy innoverende en uitsonderlike bestuur van die Springbokke tydens hulle seges tydens die 2019- en 2023-Rugbywêreldbekertoernooie.
Sy sterk dryfkrag en fokus op diversiteit en inklusiwiteit asook sy toewyding tot sosiale verantwoordelikheid word as verdere redes aangevoer.
Alhoewel Erasmus geëerd voel om die graad te ontvang, het hy die Springbokke en die bestuurspan vir hulle deursettingsvermoë die afgelope paar jaar bedank.
Erasmus het Donderdag die eredoktorsgraad met groot dankbaarheid aanvaar. ’n Amptelike seremonie sal binne die volgende paar maande op die Potchefstroom-kampus plaasvind.
Bronne: NWU, SA Rugby





