OB bevind onreëlmatighede met aanstel van CPW’s

Lees ook :

Foto: Openbare Beskermer van Suid-Afrika

GAUTENG. – Adv. Kholeka Gcaleka, die openbare beskermer (OB), het ‘n verklaring saam met die ondersoekverslag oor die beweerde onreëlmatige stig, aanstel en ontplooi van misdaadvoorkomingsbeamptes (crime prevention wardens – CPW’s) in Gauteng vrygestel.

Volgens die verklaring spruit die ondersoek uit ’n klag wat op 27 September 2023 by die OB ingedien is. Die klag het onder meer beweer dat Panyaza Lesufi, die premier van Gauteng, buite die wetlike raamwerk opgetree het deur die die eenheid te stig en die beamptes te ontplooi. Die ondersoek deur die openbare beskermer het bepaal dat die funksionarisse van die kantoor van die premier en/of die Gautengse departement van gemeenskapsveiligheid die beamptes onreëlmatig aangestel en ontplooi het sonder ’n regsraamwerk wat hulle magtig om polisiëringsfunksies uit te voer.

Bewyse het getoon dat die departement die CPWs in diens geneem, opgelei en ontplooi het by polisiekantore om aan misdaadvoorkomingsoperasies deel te neem, insluitend Operasie Shanela. Teen September 2023 het die CPWs aan 51 773 polisie-operasies deelgeneem. Die openbare beskermer het bevind dat die tot stand bring, aanstel en ontplooi van die CPWs nie op ’n wetlike grondslag berus het nie en dat die Gautengse departement van gemeenskapsveiligheid se optrede onreëlmatig was. Die handelinge het neerkom op onbehoorlikheid en wanadministrasie soos aangetoon in artikel 182(1)(a) van die Grondwet en artikel 6(4)(a)(i) van die Wet op die Openbare Beskermer, 1994.

Gcaleka het onder meer die volgende regstellende stappe beveel:

  • Die premier van Gauteng moet binne 180 dae stappe neem om die CPWs in die provinsie as padverkeersbeamptes aan te stel ingevolge artikel 3A van die Nasionale Padverkeerswet, soos aanbeveel in opsie drie van die Tegniese Komitee-verslag.
  • Die LUR vir gemeenskapsveiligheid moet binne 30 dae maatreëls implementeer om verdere vertragings te voorkom en binne 180 dae verseker dat CPWs wetlik as padverkeersbeamptes aangestel word.
  • Die hoof van die departement moet binne 60 dae opleiding verskaf om werknemers se kundigheid te verbeter.
  • Die minister van justisie en korrektiewe dienste, die minister van polisie, die nasionale kommissaris van die SAPD en die hoof- uitvoerende beampte van die padverkeersbestuurskorporasie moet binne 30 dae stappe neem om saam met die Gautengse provinsiale regering te werk om te verseker dat die CPWs binne die wetlike raamwerk funksioneer.

Gcaleka het voorts daarop gewys dat die premier aangekondig het dat die CPWs nie meer in hul huidige vorm sal voortbestaan nie, maar geïntegreer sal word in die Gautengse padverkeerspolisie en spesiale wetstoepassingseenheid en dat hulle aan intensiewe opleiding oor ’n tydperk van 36 maande onderwerp sal word. Daar is beklemtoon dat die openbare beskermer se regstellende stappe bindend is en die betrokke staatsinstellings word versoek om dit ten volle en tydig uit te voer.

Druk hier om die volledige verklaring te lees en hier om die volledige verslag te lees.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief