KAAPSTAD. – Die OKU-hotelgroep het die aankoop van die ikoniese Ritz-hotel in Seepunt bevestig.
Die Ritz-hotel, ’n 23-verdieping-landmerk, het in 1972 geopen en bekendheid verwerf vir sy draaiende dakrestaurant. Ná die sluiting van dié geliefde hotel in 2015, het die gebou verval. Sonder water en elektrisiteit, geen werkende hysbak nie en met gebreekte trappe, heers daar ‘n onheilspellende atmosfeer. Nou staan die Ritz op die drumpel van ’n opwindende nuwe hoofstuk.
OKU Hotels se uitvoerende hoof, Piers Bradley, sê die groep beplan om die gebou met sorg en kreatiwiteit te restoureer, met, “’n visie wat gegrond is op sowel respek as hernuwing.” Volgens Bradley sal die gebou se ryk erfenis eerbiedig word.
Nelson Mandela het in 1990 by die Ritz-hotel tuisgegaan kort ná sy vrylating uit Victor Verster-gevangenis.
“Gaste kan uitsien na ’n sorgvuldig saamgestelde aanbod wat strek van spa- en welstandservarings tot lewendige eetplekke en dinamiese sosiale ruimtes,” sê Bradley. Hy voeg by dat besoekers aan OKU se kenmerkende mengsel van ontspanne luuksheid en leefstylervarings blootgestel sal word.
Met die aankoop van die gebou tree OKU tot Afrika toe, met die Ritz as die groep se eerste stedelike hotel.
Die heropeningsdatum is nog nie bevestig nie.
Bron: OKU Hotels London | South Africa Travel News





