OOS-KAAP. – ‘n Onbekende man en vrou het Saterdag in ‘n motorfietsongeluk met ‘n voertuig in Sherwood gesterf. Kabega Park-speurders is op soek na die oorledenes se naasbestaandes of enigiemand wat hulle kan identifiseer.
Kapt. Sandra Janse van Rensburg sê na bewering het ‘n wit Nissan Sabre met drie insittendes omstreeks 20:00 in Walker-rylaan in die rigting van Kabegapad gery. By die inkopiesentrum-kruising het die Nissan met ‘n blou Honda-motorfiets gebots.
Die bestuurder van die voertuig is na ‘n hospitaal vervoer, maar die ander insittendes het geen beserings opgedoen nie.
Die onbekende man en vrou wat met die motorfiets gery het, het op die toneel gesterf.
‘n Saak van strafbare manslag word ondersoek en enigiemand wat kan help om die naasbestaandes van die oorledenes op te spoor of om hulle identiteit vas te stel, word gevra om 082 442 1282 te bel.





