WES-KAAP. – ’n Ondersoek is tans aan die gang na ‘n onbekende voorwerp wat in die see tussen Dappat se Gat en Kogelbaai beland het. Ooggetuies het dit Sondagaand opgemerk.
Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, sê die voorval is omstreeks 17:20 aangemeld toe daar aanvanklik vermoed is dat dit moontlik ’n valskermswewer kon wees wat in die water neergestort het. ’n Voorwerp of moontlik ‘n persoon is glo sowat 1,5 seemyl van die kus af opgemerk, maar visuele kontak is gou verloor. ’n Grootskaalse soek-en-reddingsoperasie is kort daarna van stapel gestuur, met verskeie nooddienste wat ontbied is om die situasie te ondersoek. Reddingspanne het die gebied vanaf die kus per boot gefynkam. Volgens owerhede is daar egter geen bevestiging dat enige persoon vermis is nie en geen verdere bewyse is tydens die uitgebreide soektog gevind nie.
Later het ’n plaaslike branderplankryer aangedui dat die voorwerp moontlik groot heliumballonne kon wees wat in die see beland het. Hoewel die voorval tans as ’n vals alarm beskou word, bly owerhede waaksaam. ’n Soortgelyke voorval is onlangs by Wildernis aangemeld waar heliumballonne ook vir ’n noodgeval aangesien is. Owerhede doen ’n beroep op die publiek om na vore te kom indien hulle weet van enige voorwerpe – veral heliumballonne – wat moontlik in die see geval het. Enigiemand wat sulke voorwerpe sien of op die kuslyn opmerk, moet dit onmiddellik aanmeld.
Die publiek word ook aangemoedig om enige inligting te deel wat kan help om die oorsprong van die voorwerp vas te stel.





