PAARL, WES-KAAP. – Die lang beplande Paarl Africa Underground Laboratory (PAUL) gaan binnekort ’n werklikheid in die Du Toitskloof-berge word.
Volgens beplanning gaan toegang tot die ondergrondse laboratorium via die Hugenote-tonnel naby die Paarl verkry word. Die projek, wat al vir amper ’n dekade beplan word, gaan spesifiek op navorsing rakende donker materie fokus.
Prof. Sibusiso Moyo, adjunk- visekanselier van Navorsing, Innovering en Nagraadse Studies by die Universiteit Stellenbosch, sê ondergrondse laboratoriums skep die ideale toestande om navorsing oor donker materie te doen omdat alle seine en agtergrondgeluide uitgesny word.
Volgens prof. Richard Newman, kernwetenskaplike verwant aan die US, sal die navorsingeksperimente se uitslae wat in die Suidelike Halfrond gedoen word, met uitslae vanuit die Noordelike Halfrond vergelyk word.
Na raming sal die laboratorium eers teen einde 2028 voltooi wees as daar by die voorgestelde tydlyn gehou word.
Bronne: iThemba LABS, Women in Science-Africa





