MPUMALANGA. – Sewe mense het gesterf toe ‘n sedan en ’n ligte afleweringsvoertuig Maandagoggend 8 Desember op die N12 tussen Ogies en Emalahleni (Witbank) gebots het. Vyf van die oorledenes was in die sedan – twee vroue en drie mans – met twee mans in die bakkie. Daar was geen oorlewendes nie.
Moeti Mmusi, woordvoerder vir die departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, sê in ‘n verklaring voorlopige ondersoek dui daarop dat een van die voertuie moontlik beheer verloor het en in die teenoorgestelde baan ingedraai het voordat dit met die ander voertuig gebots het. Die pad het ‘n middelman met oop spasie en meer bane vir verkeer wat in dieselfde rigting ry aan beide kante. Dit suggereer dat een van die voertuie moontlik ‘n hoë snelheid gehandhaaf het.
Die ondersoek word tans deur die polisie, die padverkeersbestuurskorporasie en die departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling uitgevoer. Onverskillige of nalatige bestuur kan nie uitgesluit word nie.





