Marco van Deventer en Ruvé Erasmus, ook bekend as ONS, stel hulle debuutalbum Begin vry, nadat ‘n droom met ‘n kitaar op ‘n woonstelblok se trappe gebore is.
Fanie Nel van Coleske Group sê met Daai Liedjie en Lag wat vroeër vanjaar vrygestel is, het ONS ‘n huishoudelike naam met hulle aansteeklike lirieke en treffende klanke geword. Lag het boonop met die vrystelling onmiddellik op nommer een van Apple Music se Afrikaanse ranglys gepryk. Die vyf liedjies op die album wat nou vrygestel is, weerspieël die diepte en veelsydigheid van ONS se musiek.
“Buiten Daai Liedjie en Lag bevat die album sewe liedjies. Die vyf splinternuwe snitte dek ‘n verskeidenheid emosies. Die nuwe liedjies sluit in: Soen, Jou Oë, Bietjie Verlief Op Jou, Terugkom, en Los My In Die Lande. Laasgenoemde is as die nuutste radio-enkelsnit bekendgestel.”
Marco sê die album se titel is simbolies van die begin van die duo se amptelike musiekreis.
“Al het ons al ’n paar liedjies uitgereik, is dit ons eerste album. Die liedjies is vir ons van spesiale betekenis, byvoorbeeld, Jou Oë was die eerste liedjie wat ons saam geskryf het, en Terugkom simboliseer die begin van ons persoonlike verhouding. Terugkom vertel die verhaal van ONS en is baie persoonlik, terwyl Jou Oë oor fisiese aanraking as liefdestaal gaan. Los My In Die Lande vertel die verhaal van ’n vriend wat moet kies tussen sy meisie en sy plaaslewe, en Soen gaan oor ’n tipiese afspraak in Pretoria, waar elke oomblik spesiaal is as jy by jou beter helfte is.”
Ruvé sê die gewildheid van Lag is ‘n deurbraak wat hulle hoop gegee het: “Dit was ’n bewys dat mense werklik hou van wat ons doen en dat ons moet aanhou. Soen en Los My In Die Lande weerspieël ons gevestigde klank, maar ons het ook twee ballades – Terugkom en Jou Oë – wat ’n ander kant van ons wys. Bietjie Verlief Op Jou wys ons speelse kant.”
En wat is ONS se toekomsplanne?
“Ons wil hierdie album so wyd as moontlik neem en hoop om elke hoek en draai van die land te besoek. Ons doel is om ons klank te vestig en om ’n pad saam met ons aanhangers te loop,” sê Ruvé.
“Dit gaan daaroor om nie te lank te dink nie, raak verlief, gee die soen wat jy nog altyd wou. Die lewe is te kort,” voeg Marco by.
Met Begin nooi ONS hulle aanhangers uit om saam met hulle hierdie musiekreis aan te pak, om
saam te sing, en om net die lewe te geniet.
“Die album dra ’n eenvoudige, maar kragtige boodskap: begin net.”
Begin kan hier op alle stromingsdienste geluister word. ONS kan op alle sosialemediaplatforms gevolg word.





