** Spookstories word ingestuur deur FiND iT-lesers en is nie die opinie van FiND iT nie.**
“Ek en my man bly in een van die oudste buurte in Kimberley. Dit is waar van die eerste diamantdelwers in Kimberley gewoon het. Ons het in 2015 in die huis ingetrek. Die ou huise in Kimberley staan bekend vir houtvloere asook hoë plafonne.”
“Ek het een aand wakker geword van die houtvloere wat kraak. Dit het presies geklink soos wat dit klink wanneer iemand oor die houtvloer loop. Ek het regop gesit (nog lekker deur die slaap) om te kyk wat dit is. Ons het toe nog nie troeteldiere gehad wat in die huis rondbeweeg nie. Ek het ‘n donker figuur im die deur sien staan. Ek voel toe langs my om te kyk of dit nie my man was nie, maar hy was vas aan die slaap langs my. Toe ek mooi probeer fokus op die figuur, kon ek sien dat dit ‘n vrou is wat in swart geklee was met ‘n sluier oor haar gesig. Haar uitrusting was in die Viktoriaanse styl. Die vrouens in die laat 1800’s het presies hierdie styl klere gedra. Dit was ook die tyd waarin die huis waarin ons woon, gebou was.”
“Ek het dadelik onder die kombers ingeklim met die hoop dat dit net ‘n droom was. Ek kon voel iemand kyk vir my. Toe ek onder die kombers uitloer, was die vroulike figuur by die punt van ons bed. Weer is ek onder die kombers in. Seker so vyf minute later, toe ek weer kyk, het sy reg langs my gestaan. Ek het probeer praat of skree sodat my man kon wakker word, maar ek kon nie. Sy het net vir my gestaan en kyk met haar hande voor haar. Ek het toe aan die slaap geraak.”
“‘n Paar maande het verbygegaan waartydens die verskynsel gereeld gebeur het. Elke keer was sy op dieselfde plek met dieselfde swart rok en sluier. Ek kon voel wanneer sy daar is en het elke keer wakker geword. Haar gesig was ook elke keer duidelik sigbaar onder die sluier en sy het net na my gestaar.”
“Ek is skielik in die hospitaal opgeneem en my man moes vir die eerste keer alleen in ons huis slaap. Ek het hom elke keer vertel wanneer ek die vrou gesien het, so hy was bewus van haar. Hy het homself een nag wawyd wakker geskrik toe iemand met yskoue hande hom aan sy voete van die bed af probeer trek het. Ons glo vas dat dit sy was en dat sy dalk na my gesoek het. Hierdie was ook die eerste en laaste keer wat iemand (vermoedelik die vrou) aan een van ons geraak het.”
“Toe ek terug is by die huis, het ons Bybelverse oor die huis uitgespreek en baie hard gebid. Die vrou het toe nooit weer haar verskyning gemaak nie. Hopelik het sy rus vir haar siel gekry.”
“Ek het navorsing gedoen oor die spesifieke uitrusting wat sy aangehad het. Ek vind toe uit dat die dames in die Viktoriaanse tydperk swart rokke met swart sluiers gedra het wanneer hulle geliefdes gesterf het. Dit is hoe hulle aangetrek het wanneer hulle rou. Ek glo vas dat sy nie daar was om my enige leed aan te doen nie, maar dat ons bed bloot gestaan het waar een van haar geliefdes wat gesterf het, gelê het.”
“Ons het met ‘n toergids in Kimberley ook gesels en hy het ook genoem dat ons buurt bekend staan as een van die buurte waar dit die meeste spook.”