Brekende Nuus
Misdaad

Ontbinde liggaam van man op kleinhoewe in Pretoria-Noord gevind

Foto: Missing Person South Africa

GAUTENG. – Die ontbinde liggaam van ’n man is Woensdag op ’n kleinhoewe by Boskraai in Pretoria-Noord gevind. ‘n Verdagte is laat Woensdagmiddag deur die polisie in hegtenis geneem. Pretoria-Noord-speurtak is op die hakke van ‘n tweede verdagte.

Kapt. Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, sê inligting is omstreeks 08:00 ontvang dat ’n liggaam vermoedelik op die kleinhoewe begrawe is. Soek-en-reddingshonde is gebruik om die graf op te spoor. Die gebied is uitgegrawe en die liggaam is gevind. ’n Getuie het tydens die voorlopige ondersoek die presiese plek waar die liggaam begrawe is, uitgewys en bevestig dat die oorledene met sy voertuig op die kleinhoewe was. Volgens die polisie word vermoed dat die man as vermis in die Akasia-gebied aangemeld is. Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat sy voertuig glo in Pretoria-Wes verkoop is. Die voertuig is deur die polisie teruggevind.

Die polisie ondersoek die saak as moord en werk daaraan om die oorledene positief te identifiseer. Alle beskikbare leidrade word opgevolg.

Missing Person South Africa het kort gelede gesê die 53-jarige Allan Whelan, wat sedert Augustus vermis was, is dood opgespoor. Whelan is tussen middernag op Vrydag 21 Augustus en ongeveer 03:00 op Saterdag 22 Augustus 2026 laas in Pretoria-Noord gesien. ’n Vermiste-persoon-verslag is by Akasia-polisie geopen.

Missing Person South Africa het intussen op sy blad aangedui dat Whelan dood gevind is. Die plasing volg nadat ’n ontbinde liggaam vroeër by ’n kleinhoewe in Boskraai gevind is. Die besonderhede rondom die ontdekking en die identiteit van die oorledene word deur die owerhede ondersoek.