LIMPOPO. – Die onthoofde liggaam van Magdeline Motlanthe (56) wat op Westenburg as vermis aangemeld is, is in ‘n vlak graf in bosse in Zebediela gevind. ‘n Familielid en ‘n buitelandse burger is in hegtenis geneem.
Volgens kol. Malesela Ledwaba was haar liggaam reeds in ‘n gevorderde stadium van ontbinding.
Ledwaba sê sy is na bewering van haar woning ontvoer toe sy die laaste keer op 8 Januarie gesien is toe sy haar woning in Ivy Park in Pretoria met haar wit Toyota Hilux-bakkie verlaat het. Sy het nooit by haar bestemming opgedaag nie. Haar liggaam is positief deur familielede geïdentifiseer.
Die ondersoek het Saterdag gelei tot die inhegtenisneming van ‘n man (32) wat aan die oorledene verwant was. Die buitelandse burger is dieselfde dag in Polokwane as tweede verdagte in hegtenis geneem en het glo Motlanthe se selfoon in sy besit gehad.
Op 4 Januarie is die liggaam van Nkgoropo Joseph Motlanthe (31) in ‘n vlak graf op Apel gevind. Hy was die seun van die vermiste Motlanthe wat ook dood in ‘n vlak graf aangetref is. Van beide liggame is ledemate vermis.
Ledwaba sê nog inhegtenisnemings sal na verwagting gemaak word.
Die verdagtes in aanhouding het vandag vir die dubbele moord, huisroof en ontvoering in die Polokwane-landdroshof verskyn.
Die oorledenes se voertuie is nog nie opgespoor nie.
Enigiemand met inligting word versoek om kapt. Eddie Hlaraka by 082 729 0049 te bel.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel





