OOS-KAAP. – Lindsay Knowlden (65), wat Saterdagoggend by die Markman-varsproduktemark in Gqeberha ontvoer is, is vanoggend (Woensdag) vroeg met haar familie herenig.
AO Ndiphiwe Mhlakuvana, Valke-woordvoerder, sê aan Nuusflits Knowlden is medies ondersoek. ““Ons versoek in hierdie stadium dat die familie die privaatheid en tyd gegun word wat hulle nodig het om hierdie ontstellende ervaring te verwerk en daarvan te herstel.”
Mhlakuvana doen ‘n beroep op enigiemand wat oor relevante inligting oor die gebeure beskik om na vore te kom. Identiteit sal beskerm word. Die ondersoek duur voort en alle moontlike leidrade word opgevolg.
André Snyman van eblockwatch het die nuus op sosiale media bekend gemaak: “Ná sy Saterdagoggend met wapens by die Varsproduktemark in Gqeberha ontvoer is, is Lindsay Knowlden veilig terug. Aan die polisie, privaat spanne, gemeenskapsnetwerke en elke persoon wat gedeel, gesoek en saamgestaan het – dankie. Dit was ’n reuse-spanpoging. Ons is diep dankbaar.”
Met ‘n vorige plasing het Snyman herinner waarom daar ‘n taktiese stilte, soos hy dit beskryf, tydens ‘n ontvoeringondersoek is. Volgens Snyman is die stilte doelbewus en strategies nodig om ‘n lewe in ‘n sensitiewe ondersoek te red, aangesien hierdie tipe ondersoek deur kundiges hanteer word wat weet wat hulle doen. Hy het ‘n beroep gedoen dat die stilte gerespekteer moet word en slegs geverifieerde inligting gedeel moet word. “Daar is ‘n tyd om op te tree en ‘n tyd om te wag.”
Nuusflits het polisiekommentaar gevra.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





