OOS-KAAP. – Lindsay Knowlden (65) is Saterdagoggend omstreeks 06:00 by die Markman-varsproduktemark in Gqeberha ontvoer nadat sy pas saam met haar man by die werk opgedaag het. Verskeie aanvallers het hulle glo oorrompel, die man aangeval en met Lindsay in ‘n voertuig vertrek.
André Snyman van eblockwatch sê twee gewapende verdagtes in ‘n wit Toyota Fotuner het die egpaar na bewering in die ondergrondse parkeerterrein gekonfronteer. Tydens die konfrontasie is die man met ‘n pistool geslaan en het ‘n snywond bokant sy linkeroog opgedoen. Lindsay is in ‘n silwerkleurige Volkswagen Polo met gekloonde nommerplate ingedwing, waarna daar met haar in die rigting van Motherwell gery is. Snyman sê AO Ndiphiwe Mhlakuvana van die Valke het ‘n eis vir ‘n losprys bevestig.
Kapt. André Beetge het die ontvoeringsondersoek aan Snyman bevestig en die publiek gevra om Snyman met toepaslike inligting by 082 561 1065 te bel.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





