OOS-KAAP. – ‘n Familie van ses is glo Sondag deur ongeveer 10 verdagtes in die France-woonbuurt in Lusikisiki oorweldig, beroof, ontvoer en aangehou. Die polisie kon hulle red en agt verdagtes in hegtenis neem.
AO Majola Nkohli sê die ontvoerde familielede is glo vir twee dae in die Magcakani-woonbuurt in Libode aangehou. Die verdagtes het, terwyl hulle die familie met vuurwapens gedreig het, selfone en ‘n Toyota-bakkie gesteel. Maandag is een van die familie, van waar hulle aangehou was, na bewering saam met die verdagtes gedwing om geld in Mthatha te onttrek.
Die polisie is Maandag van die verdwyning van die familie ingelig. ‘n Opsporingspan is geaktiveer en is met behulp van ‘n voertuigopsporingsmaatskappy na die huis in Libode gelei. Die polisie kon vyf familielede red en het vier verdagtes in hegtenis geneem. Met verdere ondersoek is nog vier verdagtes gearresteer en ‘n gesteelde Toyota-bakkie van die familie en ‘n Renault Clio teruggevind. Die polisie het ook ‘n ongelisensieerde vuurwapen by die verdagtes gekry.
Nkholi sê die laaste familielid is ongedeerd by die Madeira-polisiestasie aangetref. Hy is glo vrygelaat nadat kontant van ‘n OTM onttrek is.
Die agt verdagtes het Woensdag vlugtig op aanklag van ontvoering in die Lusikisiki-landdroshof verskyn. Die saak is tot vandag uitgestel.
Nkholi sê dit is moontlik vir nog aanklagte om bygevoeg te word.





