NOORDWES. – Twee persone wat op 8 April ontvoer is, is Saterdag deur die polisie gered. Drie verdagtes is op aanklagte van moord, ontvoering, afpersing en poging tot moord vasgetrek.
Brig. Sabata Mokgwabone sê twee persone is deur vier onbekende gewapende mans in ‘n plek in Marikana-Wes met vuurwapens aangehou, waarna ‘n man (47) doodgeskiet is. ‘n Man en vrou, onderskeidelik 40 en 61 jaar, is ontvoer. Video-opnames is die volgende oggend vir ‘n losprys aan die slagoffers se families gestuur. Nadat die losprys deur onderhandeling verminder is, sou die verdagtes volgens ooreenkoms die geld Saterdag by ‘n vulstasie in Rustenburg kry.
Die verdagtes, onderskeidelik 23 en 32 jaar, is met oorhandiging van die geld in hegtenis geneem. ‘n Verdagte wat glo probeer het om ‘n polisielid te ontwapen, is in die dy geskiet. Staatsgeld vir die operasie is teruggevind en die verdagtes, beide Lesotho-burgers, het die polisie na bosse naby Boitekong geneem waar die slagoffers ongedeerd gevind is. Tydens ondersoek is ‘n plasma-televisiestel en ‘n dekodeerder, wat tydens die misdaad gesteel is, in bosse gevind. Nog ‘n vroulike Lesotho-burger (31) is in hegtenis geneem.
Die verdagtes het vandag in die Rustenburg-landdroshof verskyn.





