OOS-KAAP. – ‘n Man wat op 14 Oktober in Perridgevale ontvoer is, is drie dae later ongedeerd vrygelaat. ‘n Verdagte (43) is in hegtenis geneem en sal vandag op aanklagte van ontvoering, afpersing en die besit van ‘n onwettige vuurwapen in die hof verskyn.
AO Ndiphiwe Mhlakuvana, Valke-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die slagoffer is glo deur ‘n wit Volkswagen Polo vanaf die Atrium Spar gevolg. By sy woning is die slagoffer glo met geweld uit sy voertuig gepluk en in die Polo ontvoer. Sy voertuig is agtergelaat. Familielede het later die voertuig oop ontdek en die polisie ontbied.
Nadat ’n losprys van die familie gevra is, is die saak aan die Valke oorhandig. Die slagoffer is op die aand van 17 Oktober ongedeerd in Motherwell, Gqeberha, vrygelaat. Inligting het die ondersoekspan na ’n woning in Despatch gelei waar die verdagte vasgetrek is. Hy is in besit gevind van ’n Norinco-pistool van 7.65 mm sonder ’n reeksnommer, asook lewendige ammunisie. Die voertuig, vuurwapen en ammunisie is vir verdere ondersoek gekonfiskeer.
Die ondersoek het ook bevestig dat die slagoffer se bankkaart gebruik is vir verskeie kontantonttrekkings by OTM’s in Kariega. Die verdagte verskyn na verwagting vandag in die Gqeberha New Law-hof.





