NOORDWES. – Koali Rankomo, ‘n beweerde onwettige myner wat onder polisiebewaking in die Klerksdorp/Tshepong- tersiêre hospitaal in die Dr. Kenneth Kaunda-distrik opgeneem was, het Maandag gesterf.
Tshegofatso Mothibedi, woordvoerder vir die provinsiale departement van gesondheid, sê Rankomo is opgeneem nadat hy met gastroënteritis en dehidrasie gediagnoseer is. Hy was deel van ‘n groep van 33 beweerde onwettige myners wat in die hospitaal opgeneem is.
Die groep is gedurende die nasionale reddingsoperasie by Stilfontein van ondergronds gebring en gearresteer. Nog 32 ander vermoedelike onwettige myners is steeds onder polisiebewaking in die gesondheidsdepartement se sorg.





