NEDERLAND. – Argeoloë glo dat oorskot wat in Maastricht in Nederland onder ’n kerkvloer gevind is, moontlik dié is van ’n soldaat is wat die beroemde romanDie Drie Musketiers deur Alexandre Dumas geïnspireer het.
Argeoloë meen dit kan die “verlore” beendere wees van die soldaat wat die held van die bekende roman – D’Artagnan – geïnspireer het.
Volgens Sky News het werkers die graf met menslike oorskot voor die altaar ontdek nadat ’n deel van die vloer van die St Peter and Paul Church ingesak het.
Kenners is nou in ’n wedloop teen tyd gewikkel om deur middel van DNS-toetse te bevestig of die skelet dié is van die beroemde Franse musketier, Charles de Batz de Castelmore d’Artagnan. Verskeie voorwerpe wat in die graf gevind is, dui ook op die eienaar se identiteit.
D’Artagnan het meer as 150 jaar ná sy dood bekendheid verwerf toe ’n gefiksionaliseerde weergawe van sy avonture hom as die hoofkarakter in Die Drie Musketiers (1844) uitgebeeld het.
Die werklike musketier was in diens van koning Louis XIV van Frankryk en het uiteindelik kaptein-luitenant van die Musketiers van die Garde geword.
Die beroemde edelman is op 25 Junie 1673 dood tydens die Franse beleg van Maastricht in die Frans-Nederlandse oorlog nadat hy in die keel deur ’n musketkoeël getref is.
Bronne: Sky News, The Guardian





