WES-KAAP. – Operasie Ribbebeen, ’n jaarlikse inisiatief van Strand Patrol Buurtwag / NHW Helderberg, het vanjaar weer hoop en ondersteuning vir diere in nood gebring. Ondanks ’n stadige begin en verskeie uitdagings langs die pad is ‘n groot hoeveelheid troeteldierkos geskenk.
KC Gericke sê die projek het aanvanklik gesukkel om momentum te kry, totdat ’n anonieme skenking van R10 880 nuwe lewe daaraan gegee het. Kort daarna het logistieke probleme egter weer vertragings veroorsaak. “Afleweringsdatums het geskuif, logistiek het skeefgeloop, en dit het weer gelyk of dinge nie heeltemal wil uitwerk nie. In daardie week van onsekerheid het Strand Patrol uitgereik na Pet World en dis waar die storie ’n ongelooflike draai gemaak het.”
Volgens hom het die projek ’n groot hupstoot gekry toe Petworld met ’n skenking van R51 000 ingestaan het, wat die span in staat gestel het om voort te gaan en die projek suksesvol te voltooi. Uiteindelik is ongeveer R80 000 se troeteldierkos aan Animal Welfare Helderberg, PetPals en Help a Paw oorhandig. Dit is volgens sosialemediaplasings ongeveer 2.6 ton troeteldierkos.
Gericke het ook dank uitgespreek teenoor Jimmy’s Trailer Hire en ander vennote wat bygedra het tot die sukses van die projek. Hy sê die projek se impak was duidelik sigbaar en wys wat moontlik is wanneer ’n gemeenskap saamstaan om diere in nood te help. “Dankie Darnoc Electrical, 1 Day Painters, Uni-span Formwork & Scaffolding asook PRSS Holdings vir julle bydrae.”
“Die impak. Onbeskryflik. Daar was trane van blydskap. Oë wat ophelder. Stertjies wat waai. Vierpootmaatjies wat dalk vir die eerste keer in ’n lang tyd vol mae sou hê. Maar agter dit alles is daar mense. Mense wat gee. Mense wat opdaag. Mense wat nie wag vir iemand anders om ’n verskil te maak nie. Dankie aan elke persoon wat bygedra het. Dankie aan ons SUPER lede wat altyd daar is, maak nie saak wat nie. Strand Patrol Buurtwag. Die verskil.”





