GAUTENG. – Veeartse van die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Veeartsenykunde het onlangs meer as vyf uur op Houdini, ‘n vierjarige witrenosterbul, geopereer. Houdini is jare gelede deur ‘n koeël van ‘n stroper in die neus gewond.
Volgens die universiteit is die operasie uitgevoer om ’n ernstige nasale obstruksie in Houdini se neus te verwyder en sy asemhaling te herstel. Houdini het aanvanklik goed onder die sorg van dr. Pierre Bester by The Rhino Orphanage in Limpopo gevaar. Maande later is bevind die een neusgang is heeltemal geblokkeer. Dr. Bester sê: “Vir renosters wat net deur hul neuse asemhaal, is só ’n blokkasie lewensbedreigend.”
Die saak is na prof. Gerhard Steenkamp van die Onderstepoort Veeartsenykundige Akademiese Hospitaal verwys. ’n CT-skandering het gewys die regterneusgang is heeltemal toe en die letsel het na die linkerneusgang begin uitbrei. Tydens die operasie is chirurgiese toegang vanaf die kant van die gesig onder die horings verkry om die verstopte gebied te bereik. Dr. Abdur Kadwa het die narkosespan gelei en dr. Jacques O’Dell het die narkose toegedien.
Dr. Kadwa sê: “Asemhalingsprobleme onder verdowing is algemeen by renosters. Ons het die tegniek van haemodilution gebruik, waar die dier se eie bloed gebruik is om bloeding tydens die operasie te hanteer.” Volgens hom is hierdie tegniek waarskynlik ’n wêreldeerste in renosterchirurgie. Houdini is vir byna ses uur sonder komplikasies onder verdowing gehou.
Ná die operasie het Houdini suksesvol in ’n spesiale boma onder toesig van die span herstel.
Lees die volledige plasing van die operasie op die universiteit se webtuiste hier.



Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





