WES-KAAP. – Die opknappingsprojek van die Muizenberg-strandfront behels groot verbeterings aan openbare geriewe en die vervanging van die verouderde seewalle.
Jason Love, die uitvoerende ondersteuningsbeampte vir die adjunkburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewing, sê luidens ‘n verklaring van die Stad Kaapstad die projek vorder goed ten spyte van die reënweer.
“Ek het die strandfront ’n paar dae gelede besoek en die projekspan het bevestig dat alles op koers is om die oostelike parkeerarea aan die strandkant, voor die Muizenberg-burgersentrum, teen 1 Augustus 2025 vir die publiek oop te stel. Ek weet ons branderplankgemeenskap sal baie opgewonde wees om dit te hoor.
Volgende aan die beurt is die verwydering van gedeeltes van die bestaande seewal by Surfer’s Corner. Hierdie oorspronklike sandsteenrotse wat die muur vorm, sal gestoor word en later geëvalueer word vir moontlike insluiting in die nuwe ontwerp, aangesien dit ’n belangrike deel van die hoek se erfenis is. Die volgende gemeenskapsvergadering is op 20 Augustus 2025 om 17:30 by die Zandvlei-uitkykpunt. Ek moedig plaaslike inwoners en sakelui aan om dit by te woon vir die jongste opdatering oor die projek se tydlyne en vordering,” het die adjunkburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewing, rdl. Eddie Andrews, gesê.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





