WES-KAAP. – Fight Against Crime South Africa (FACSA) eis geregtigheid ná ‘n boelievoorval by Hoërskool Milnerton in Kaapstad . FACSA het ‘n video-opname van die voorval gedeel.
FACSA sê voorts die leerlinge wat by die voorval betrokke was, moet onmiddellik hangende ‘n verdere ondersoek geskors word, sonder verskonings, vertraging of toegeeflikheid. In ’n verklaring is daar ’n beroep op die Wes-Kaapse onderwysdepartement gedoen om deurslaggewende optrede te neem en beide die skoolbestuur en die skoolbeheerliggaam volledig vir ernstige pligsversuim aanspreeklik te hou.
Boeliegedrag is nie ’n les in dissipline is nie, maar mishandeling, vernedering en geweld in uniform, sê FACSA. Verder is ’n dringende versoek gerig vir die kontakbesonderhede van die ouers of voogde van die leerling wat geboelie is, sodat die organisasie volle ondersteuning en bystand kan bied. Die bystand sluit die inisiëring im van regsoptrede om te verseker dat geregtigheid geskied en aanspreeklikheid op elke vlak afgedwing word.
“Hierdie saak kan nie geïgnoreer of afgemaak word nie. Die beskerming en waardigheid van ons kinders kom altyd eerste. Hierdie soort gedrag walg ons ten volle. FACSA sal nie toekyk terwyl ons skole broeiplekke van wreedheid en straffeloosheid word nie.”
Persone met geverifieerde inligting word versoek om die organisasie direk en vertroulik te kontak.
Nuusflits het kommentaar van Hoërskool Milnerton gevra.





