GAUTENG. – Die departement van onderwys het die afsterwe van twee manlike opvoeders van die Hoërskool Ennerdale in Johannesburg bevestig. Die twee, onderskeidelik 26 en 28 jaar oud, is oor die naweek as vermis aangemeld. Hulle sterftes is nou aan ’n motorvoertuigongeluk wat op Saterdag 12 April 2025 plaasgevind het, gekoppel.
Steve Mabona, woordvoerder vir die Gauteng-onderwysdepartement, sê volgens beskikbare inligting het die ongeluk Saterdagoggend op die R28 naby die Lenasia-afrit in Jachtfontein plaasgevind. Een van die twee voertuie wat in die ongeluk betrokke was, het glo drie insittendes gehad. Twee van die drie opvoeders is op die toneel dood verklaar. Die polisie ondersoek tans die omstandighede van die ongeluk.
Matome Chiloane, die LUR van die betrokke onderwysdepartement, sê: “Ons betuig ons innige meegevoel aan die families van die afgestorwenes, sowel as aan die leerders, kollegas en die breër Ennerdale-skoolgemeenskap. Dit is ’n groot verlies vir die onderwyssektor en vir almal wat hierdie opvoeders geken en saam met hulle gewerk het.”
Die GDE het gereël dat welstandspersoneel, insluitend ondersteuning van die Teddy Bear Kliniek, die skool besoek om traumaberading en psigososiale ondersteuning aan personeel en leerders te bied.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





