VRYSTAAT. – Bea Louw, Carli Olivier, Ivanke van Jaarsveld, Jana Campbell en Katia Geustyn is nie net pas gekwalifiseerde dokters nie, maar al vyf is oudleerlinge van C&N Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein.
Volgens ‘n sosialemediaplasing van die skool het vier van die splinternuwe dokters hulle grade cum laude aan die Universiteit van die Vrystaat behaal. Van Jaarsveld is boonop as die beste vyfdejaar- mediese student aangewys en is ook die beste student in kliniese ortopedie sowel as in narkose. Katia Geustyn is as die beste praktiese interne medisyne-student benoem.





