Ouers: ken die gevare vir tieners aanlyn!

Lees ook :

Foto: Canva

Anthony Boucher, hoof van kuberveilig by Specialised Security Services, het in ‘n onderhoud met Nuusflits gepraat oor die gevare wat tieners aanlyn in die gesig staar, veral op sosiale media platforms soos TikTok en Snapchat. Sy waarskuwing kom ná die onlangse skorsing van vier leerlinge van die Hoërskool Duineveld nadat ‘n rassistiese video op TikTok versprei is. Specialised Security Services, onder leiding van Mike Bolhuis, beskik onder andere oor spesialiskenners in veiligheid, sekerheid en kubermisdaad.

Lees die berig hier: Vier leerlinge geskors na ‘rassistiese’ TikTok-video

‘Fame by association’

Boucher verduidelik dat tieners dikwels nie voorbereid is op die uitdagings en gevare wat hulle aanlyn kan teëkom nie. “Dit is meer ’n geval van ‘fame by association’,” sê hy. “Tieners en jongmense raak maklik behep met die mense wat hulle op sosiale media volg. Hulle dink as hulle met iemand gesels wat baie volgelinge het, sal hulle ook aandag kry, en dan sê hulle dinge aanlyn sonder om na te dink. Hulle kan nie die gevolge hanteer nie, en dit is waar die probleme ontstaan.”

Hy beklemtoon dat ouers moet toesien dat hulle kinders se sosiale media-aktiwiteit gemonitor word. “Kinders raak vasgevang in die bewondering van hierdie internetpersoonlikhede en verloor hulle oordeel. Hulle sê enigiets net om koel voor te kom.”

Dieremishandeling as gevolg van naakvideo’s van minderjarige

Boucher gebruik die ontstellende onlangse voorval van ‘n 12-jarige meisie wat met ‘n “mooi outjie” op Instagram begin praat het. Hy het haar Snapchat-rekening gevra, waarna hulle baie gou deur middel van WhatsApp begin kommunikeer het. “Kort voor lank het hulle vir mekaar video’s gestuur en die meisie het ook naakvideo’s aan die seun gestuur.” Die seun was toe nooit ‘n seun nie, maar ‘n man wat ‘n rekening oopgemaak het en hom as ‘n seun voorgedoen het. Hy het haar met die naakvideo’s begin afpers, nie vir nog naakvideo’s nie, maar om haar eie troeteldiere te mishandel en dit af te neem. Hy het haar ook afgepers om deur haar ouerhuis te loop en sodoende het hy al haar inligting gehad.

Tree onder dwang op

“Die kind het onder absolute dwang haar diere mishandel en die verskriklikste goed gedoen. Daar is mense op die ‘dark web’ wat ‘n drang het om te sien hoe diere mishandel word en dié persoon het die video’s verkoop. Die ouers was salig onbewus van wat aan die gang is, tot die oomblik wat die meisie gestop het om vir die man in te gee. Hy het daarna haar vriende deur Instagram begin kontak en van haar video’s aangestuur. Dit is eers toe dat die ouers betrokke geraak het.”

Boucher sê die effek van só iets is vreeslik op ‘n tiener. “Die meisie ontvang nou sielkundige berading. Ons kon haar rekeninge beveilig en het ook bevind die man woon in ‘n ander land. Ons kon die gevaar van moontlike ontvoering uit die weg ruim. Die hele situasie het tot ’n vernederende ervaring vir haar gelei. Daar is baie tieners wat sover gaan as om selfmoord te pleeg, dan verstaan die ouers nie hoekom nie. Dié meisie moes onder geweldige druk verkeer terwyl die situasie aan die gang is. Daar is die gevoel van skaamkry, bang wees en dan ook die vrees vir hoe die persoon gaan optree as sy dit aan iemand rapporteer.”

Ouers: wees proaktief!

Volgens Boucher moet ouers proaktief wees en nie skroom om professionele hulp te soek as hulle nie weet hoe om hulle kinders se aanlyn gedrag te monitor nie. “Daar is verskeie plekke wat ouers kan help om kinders se rekenaars en selfone te moniteer. Ouers moet weet watter toeps hulle kinders gebruik en watter tipe inhoud hulle daar teëkom.”

Hy voeg by dat Snapchat en TikTok die platforms is wat die meeste probleme veroorsaak. “Meer as 90% van die probleme wat ons met toeps ondervind, is as gevolg van Snapchat en TikTok. Ouers dink dis net oulike gesiggies, maar hierdie platforms word gebruik deur mense wat kinders teiken. Baie ouers besef nie dat vreemdelinge jou kind privaat op Snapchat kan kontak nie.”

Boucher moedig ouers aan om streng reëls in te stel en seker te maak hulle ken hulle kinders se wagwoorde. “Ouers is soms bang om hulle kinders kwaad te maak deur hulle privaatheid in te perk, maar kinders is nie gereed om privaatheid aanlyn te hê nie. Hulle kan nie die manipulasie deur volwassenes aanlyn hanteer nie.”

Boucher se boodskap is duidelik: ouers moet meer betrokke raak by hulle kinders se aanlyn lewe om hulle teen moontlike gevare te beskerm.

*Indien daar ernstige kubermisdaadsake is waaroor ouers bekommerd is, kontak Specialised Security Services hier:

Mike Bolhuis 082 447 6116
Anthony Boucher 064 747 3323
Wesley Vos 060 899 9938

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App