UPINGTON. – Vier leerlinge van die Hoërskool Duineveld is geskors nadat ‘n TikTok-video wys hoe een van die leerlinge rassistiese uitlatings maak.
Geoffrey van der Merwe, woordvoerder vir die departement van onderwys in die Noord-Kaap, sê aan Nuusflits die leerlinge wat by die video betrokke was is tussen die ouderdom van 17 en 18.
In die video, wat deur die inhoudskepper bekend as @UncleSeeno geplaas is, kan gehoor word hoe een leerder sê: “Yo yo yo, what up my n*****.
Van der Merwe sê Hoërskool Duineveld het vinnig op die voorval gereageer. “In lyn met die skool se gedragskode, is al vier leerders wat betrokke was onmiddellik geskors. Dissiplinêre verhore is geskeduleer vir die 17de September 2024 om die saak aan te spreek.”
Van der Merwe sê die inhoud van die video druis in teen die norme en waardes wat die departement by skole wil kweek. “Rassisme het geen plek in ons skole en in ons skoolgemeenskappe nie. As aktiewe burgers en leiers van verandering in Suid-Afrika moet ons standpunt inneem teen rassisme.”
Van der Merwe het ook ouers aangemoedig om hul kinders se gebruik van sosiale media te monitor en klem gelê op die noodsaaklikheid van verantwoordelike optrede aanlyn. Hy het beklemtoon dat die departement die situasie noukeurig sal monitor en die nodige ondersteuning aan Hoërskool Duineveld sal bied.
“Ons moet ons leerders ondersteun en opvoed oor die talle maatskaplike ongeregtighede, soos rassisme, kolonialisme en apartheid, wat steeds groot uitdagings in Suid-Afrika veroorsaak, net soos dit in die verlede gedoen het.”
Die voorval het nasionale gesprekke oor rassisme, sosiale media-verantwoordelikheid en die rol van skole in die bevordering van respek en inklusiwiteit heropen.