VSA. – Nancy Ann “Nanny” Fox (68) en haar agterkleinseun, genaamd Maverick Flinn (4), is op 23 Junie in Redding in Indiana ná ’n plaasongeluk dood. ‘n GoFundMe-profiel is geskep om geld vir ‘n speelterrein ter ere van Maverick op te rig.
Volgens ’n verklaring van die Jackson County Sheriff’s Department het die owerhede op die betrokke aand omstreks 19:40 plaaslike tyd ’n oproep oor ’n ongeluk op ‘n plaas ontvang. Nooddienswerkers het op die toneel bevind die oumagrootjie en haar agterkleinkind is deur ’n stroper getref. Die seuntjie is na ’n mediese sentrum geneem, waar hy dood verklaar is. Die oumagrootjie is per helikopter na ’n ander hospitaal vervoer, maar is op 25 Junie ook aan haar beserings dood. Maverick wou glo die noodlottige aand saam met sy oupagrootjie in die stroper ry. Toe hy uit die voertuig klim, is hy en sy oumagrootjie dodelik beseer, het oorsese media berig.
‘n GoFundMe-profiel is deur Maverick se familie oopgemaak om oorspronklik $5 000 in te samel om ‘n speelterrein ter nagedagtenis van die kleuter op te rig. Meer as $70 000 is reeds ontvang. Maverick is Maandag ter ruste gelê.
Weens sy dood het die Maverick Minute ook ontstaan om almal wat boer te herinner om ‘n minuut te gebruik en na die omgewing om hulle op te let.
Die voorval word deur owerhede ondersoek.
Bronne: GoFundMe, People, WBIW.com en WTHR
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





