Pa en dogter klou aan opblaasband in see tot by veiligheid

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

KWAZULU-NATAL. – ‘n Pa (44) en dogter (11) is gehospitaliseer nadat hulle Dinsdag ternouernood aan verdrinking ontkom het deur aan ‘n opblaasband vas te hou totdat hulle veiligheid bereik het.

Kyle Farrell van die NSRI in Port Edward sê die pa en dogter van Benoni was met die opblaasband in sterk seestrome vasgevang. Die pa, sy twee dogters en sy suster was met vakansie toe die insident plaasgevind het.

Bemanning aan diens is omstreeks 10:40 deur ‘n ooggetuie van ‘n verdrinking voor Caribbbean Estate bewus gemaak. Alle rolspelers is ontplooi.

Ooggetuies beskryf hoe die pa en dogter desperaat probeer het om by die strand uit te kom. Hulle het aan die handvatsels van die opblaasband vasgehou en dit het gelyk asof hulle teen die skeurstroom swem. Hulle is aanhoudend in die golwe gedompel en het die drywende toestel verloor, maar dan weer teruggekry. Die pa en dogter het aan die toestel bly vashou totdat hulle in vlak water was.

Farrell sê twee werknemers van Caribbean Estate het alarm gemaak en ‘n NSRI- pienk reddingsboei gegryp om die water in te gaan om die pa en dogter te help, maar hulle het toe reeds die vlak water bereik, en is na die strand gehelp.

“Albei het nie-noodlottige verdrinkingsimptome gehad.”

KZN-regeringsnooddienste het die pa en dogter gestabiliseer en na ‘n hospitaal vervoer, waar hulle na verwagting ten volle sal herstel.

“Die Caribbean Estate-personeel is vir die vinnige alarm wat hulle gemaak het, bedank, asook die twee personeellede wat op die toneel gehelp het. Die vinnige reaksie van die NSRI, polisie, lewensredders en mediese nooddienste word ook geprys.”

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief