LIMPOPO. – ‘n Pa en sy kleuterdogter (4) se liggame is Sondagoggend hangend aan ‘n balk in ‘n huis in Malebyestraat in Bela Bela (Warmbad) gevind.
Kol. Malesela Ledwaba sê die polisie is omstreeks 09:00 na die adres ontbied. Volgens hom het hulle op ‘n tragiese toneel in ‘n agterkamer van die huis afgekom waar die pa en dogter met toue om hulle nekke van ‘n dakbalk gehang het.
Ledwaba sê volgens die voorlopige ondersoek van die moord en geregtelike doodsondersoek het die pa na bewering eers die kleuterdogter gehang voordat hy homself om die lewe gebring het.
Die ma was nie ten tyde van die voorval tuis nie. Volgens Ledwaba kon die teenwoordigheid van onderliggende huishoudelike geweld nie gemis word nie. Die polisie ondersoek die omstandighede van die pa en sy dogter se sterftes.
Lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale kommissaris, het die voorval ten sterkste veroordeel en herinner wanneer huishoudelike uitdagings kop uitsteek, moet professionele hulp so vroeg as moontlik gevra word om tragedies soos hierdie te vermy.





