KWAZULU-NATAL. – ’n Man (61) en sy seun (32) is Vrydag tydens ‘n poging om ‘n vermeende gewoonte-dief aan te keer, in Croftvale Place, Rydalvale, Phoenix, met ‘n mes gesteek.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê dié diens se Phoenix- operasionele sentrum het kort ná 14:00 ‘n oproep vir hulp gekry. Met aankoms by die adres het reaksiebeamptes privaat ambulansdienste aangetref wat die twee beseerde mans behandel het. Daar is vasgestel ’n verdagte, wat vermoedelik verskeie huise teiken, het die erf binnegegaan en ’n vrou in haar huis gekonfronteer. Toe sy skree, het haar man en seun haar te hulp gesnel en die verdagte in die erf gekonfronteer in ’n poging om hom aan te keer.
Die verdagte het toe ’n mes te voorskyn gebring en die bejaarde man in sy linkerbeen en linkerarm gesteek en sy seun in die regterskouer. Die verdagte het daarna deur digte bosse aan die agterkant van die eiendom gevlug.
Albei slagoffers is per ambulans na ’n mediese fasiliteit vervoer.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





