LIMPOPO. – ‘n Pa (39) is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die verkragting en seksuele blootstelling van sy dogters, onderskeidelik 9 en 11 jaar oud tydens die misdade. Die pa se vriend (36) is vir twee aanklagte van verkragting tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis. ‘n Derde beskuldigde (68) het aan sy eie hand gesterf voordat die verhoor kon begin. Die ander beskuldigdes se name word weerhou om die slagoffers te beskerm.
Mashudu Malabi, woordvoerder vir die NVG, sê die Polokwane-hooggeregshof het boonop Donderdag tydens die vonnisoplegging die pa onderskeidelik vir nog drie en vyf jaar op twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, gevonnis. Die misdade het in 2022 op plase in die Letsitele-gebied – die een plaas was volgens Malabi Half Human Farm – waar die beskuldigde eiendom gehuur het, gebeur. .
Die meisies het by hulle pa gaan bly nadat hulle ouers geskei is. Die misdade teen die kinders het aan die lig gekom toe hulle vir die skool moes skryf oor wat hulle gelukkig of hartseer maak. Hulle briewe het die brutale misdade deur hulle pa, sy vriend en ander individue, insluitend Zimbabwiese plaaswerkers wat nie deur die pa betaal is nie, ontbloot. Die werkers, wat die meisies aangerand het, is steeds op vrye voet. Die pa het sy dogters verkrag en aangerand en gedwing om toe te kyk terwyl hy in seksuele aktiwiteite met ‘n ander party betrokke was. Sy vriend het die meisies beide by ‘n dam verkrag.
Onder leiding van adv. Lerato Mohlaka is ses getuies in camera aangehoor. Die beskuldige het net op twee aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig gepleit en verduidelik sy dogters is “gebreinspoel” maar dit is deur die hof verwerp. Die slagoffers se getuienis is deur ‘n forensiese maatskaplike werker, ‘n forensiese verpleegster en ‘n J88- mediese verslag ondersteun. Die hof het die staat se getuies en bewyse geloofwaardig en betroubaar bevind.
Mohlaka het die oudste slagoffer aangehaal: “Ons pa het geweet die mans maak ons seer. Hy het vir die plaaswerkers gesê om my en my suster te gebruik, aangesien hy nie geld gehad het om hulle te betaal nie.”
Waarnemende regter Malose Monene het gesê daar kan nie tydens vonnisoplegging met verkragters onderhandel word nie, waarna hy ‘n vonnis gevel het wat van die minimum voorgeskrewe minimum vonnis afgewyk het.
Kol. Malesela Ledwaba sê die pa sou sy dogters brutaal met ‘n gordel slaan en aan die genade van seksuele mishandeling as “betaling” aan plaaswerkers, wat hy met tye nie kon betaal nie, toelaat. Die vriend van die pa, wat ook gevonnis is, het die slagoffers na ‘n afgeleë gebied by ‘n dam geneem waar hulle herhaaldelik verkrag is. Die slagoffers het tussen Augustus en November 2023 die misdade aan ‘n ondewyspersoneellid ontbloot, waarna relevante rolspelers betrek en hulle na ‘n plek van veiligheid verskuif is.
Ledwaba sê beide die beskuldigdes is aanvanklik op borg vrygelaat, maar die pa se borg is teruggetrek nadat hy van intimidasie van getuies beskuldig is.
Die pa is op aanklag 1van verkragting lewenslank gevonnis, op aanklag 4 van aanranding met die doel om ernstig te beseer drie jaar en op aanklag 5 – aanranding met die doel om ernstig te beseer – vyf jaar gevonnis. Die vriend is op aanklag 9 van verkragting lewenslank en aanklag 10 van verkragting tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale polisiekommissaris, het Tzaneen-GKS vir hulle suksesvolle ondersoek wat tot die vonnisoplegging gelei het, geprys. Die onderwyspersoneellid wat die insident rapporteer het, is ook spesiaal genoem en bedank.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





