NOORD-KAAP. – ‘n Pa (46) van Calvinia, wat sy dogter (11) op 23 Desember omstreeks 09:00 met ‘n stok oor die kop en lyf geslaan het, is deur die streekhof gevonnis. Hy is 10 jaar tronkstraf, waarvan vyf jaar vir vyf jaar opgeskort is, opgelê.
Lt.kol. Sergio Kock sê die kind is brutaal aangerand. Sy het gebloei en het na ‘n familielid toe gehardloop vir hulp. Die polisie is ontbied en die pa is in hegtenis geneem.
Die Calvinia-streekshof het die pa Dinsdag vir aanranding met die doel om ernstig te beseer gevonnis. Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit. Hy mag voorts ook nie met kinders werk nie.
Speur.konst. Gregory Settley van Calvinia-GKS is vir sy ondersoekwerk wat tot die suksesvolle afhandeling van die saak gelei het, geprys.





