GAUTENG. – Ronald Ngobeni (31) is deur die hooggeregshof in Johannesburg tot lewenslange tronkstraf vir die moord op Rivoningo Capu (5), sy seun, gevonnis.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê ‘n verdere twee jaar is vir dwarsboming van die gereg bygevoeg. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.
“Ngobeni is sedert 10 Oktober 2022 in polisie-aanhouding.”
Die moordenaar het vir ‘n ligte vonnis gevra en aan die hof en die ma van sy seun om verskoning gevra.
“Senior staatsadvokaat Thami Mpekana het suksesvol aangevoer dat Ngobeni se misdaad met voorbedagte rade was en dat hy versuim het om ‘n oortuigende verduideliking vir sy optrede te verskaf. Die staat het ook ‘n slagofferimpakverklaring van Emihle Capu, die ma van die 5-jarige, voorgelê, wat die verwoestende impak van haar seun se dood op haar lewe beskryf het. Sy het onthul haar ma, die ouma van die oorledene, was 8 maande swanger toe haar kleinseun vermoor is en die kind wat sy gedra het, weens die trauma en stres oor die misdaad verloor het.”
Mjonondwane sê regter Karam het tydens sy uitspraak benadruk Ngobeni is ‘n gevaar vir die gemeenskap en ‘n lewenslange tronsktraf is nodig om die gemeenskap te beskerm.
Die NVG het die vonnis verwelkom en is van mening geregtigheid vir die sinnelose moord op die onskuldige seun het geskied.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Ronald Ngobeni (29) het op 7 Oktober 2022 sy seun Rivoningo Capu (5) doodgemaak en in ‘n vlak graf begrawe. Hy is Woensdag deur die Johannesburg-hooggeregshof aan moord en regsverydeling skuldig bevind.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê Ngobeni het op die betrokke dag aan Capu se grootouers voorgegee hy gaan vir die kind klere koop en hom veilig terugbesorg. Instede het hy die kind brutaal vermoor.
Capu se grootouers het hom as vermis by die polisie aangemeld. Ngobeni het gesê hy het die kind gelos by ‘n verkoper, wat enige betrokkenheid by die kind se dood ontken het.
Die liggaam van die seun is in dieselfde maand met ‘n kopbesering in ‘n vlak graf ontdek. Ngobeni se leuens is deur die polisie-ondersoek ontbloot.
Regter Karam het bevind Thamsanqa Mpekana, die staatsaanklaer, het bo redelike twyfel bewys Ngobeni is aan die misdade skuldig. Mjonondwane sê die skuldigbevinding bring ‘n mate van afsluiting vir die familie en gemeenskap. Die NVG prys die polisie en staatsaanklaer vir die skuldigbevinding.
Die saak is tot 15 Julie uitgestel wanneer daar met bewyse ter versagting en verswaring van die vonnis voortgegaan sal word.





