GAUTENG. – ’n Vrou (50) van Pakistanse nasionaliteit is in Midrand in hegtenis geneem nadat sy haar na bewering sonder die nodige kwalifikasies vir meer as 10 jaar reeds as ’n geregistreerde mediese praktisyn voorgedoen het.
Volgens die Johannesburgse metropolisie (JMPD) se taktiese reaksie-eenheid het beamptes inligting ontvang oor ’n vrou wat glo by ’n mediese kliniek in Southweg, Midrand, pasiënte behandel. Met aankoms by die perseel het hulle haar aangetref waar sy besig was om met twee pasiënte te konsulteer. Sy is versoek om dokumentasie voor te lê wat haar magtig om as dokter te praktiseer, insluitend ’n geldige praktyknommer, maar kon dit nie verskaf nie. Tydens verdere ondervraging het sy erken dat sy nie haar mediese studies voltooi het nie en nie oor die vereiste kwalifikasies of sertifikate beskik nie. Sy het glo ook aangedui dat sy al langer as tien jaar sonder geldige dokumentasie as dokter praktiseer.
Beamptes het ses pasiëntlêers in beslag geneem, asook dokumente soos siekbriewe, voorskrifte en voltooide oogtoets-sertifikate. Dokumente en PrDP-sertifikate, met verskillende dokters se name, is ook in haar spreekkamer aangetref. Die vrou is in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog en oortreding van die Wet op Gesondheidsberoepe.







