GAUTENG. – Altesaam 153 Palestyne het Donderdagoggend kort ná 08:00 op ‘n vlug vanaf Kenia op die OR Tambo Internasionale Lughawe aangekom. Die tydperk wat die Palestyne in die land sal bly en waar hulle tans tuisgaan, is nie bekend gemaak nie.
Luidens ‘n verklaring van die Government of South Africa is toegang eers aan die Palestyne geweier, maar nadat Gift of the Givers hulle daartoe verbind het om huisvesting te voorsien, is 130 van die 153 vlugtelinge in die land toegelaat en 23 het na hulle finale bestemming vertrek. Diegene wat Palestynse paspoorthouers is, het ingevolge die visumvrystelling 90 dae toegang tot Suid-Afrika.
Dr Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers, het die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), Zane Dangor, sy direkteur-generaal, en die minister, Ronald Lamola, vir die ontvangs van die vlugtelinge bedank. Luidens ‘n verklaring van Sooliman is hierdie stap in ooreenstemming met Suid-Afrika se beleid om Palestina te ondersteun, wat die optrede teen “die terroristiese, volksmoord-, apartheidstaat Israel” by die Internasionale Geregshof, die Internasionale Strafhof en die poging om ’n boikot van daardie land tydens Bogota te verkry, insluit.
Sooliman sê voorts die grensbestuursowerheid het volgens sy mandaat opgetree om die passasiers sonder die nodige vertrekstempels aanvanklik nie toestemming te gee om van die vliegtuig af te klim nie. “Israel het opsetlik nie die paspoorte van hierdie armes gestempel nie om hul lyding in ’n vreemde land te vererger. Ons is dankbaar dat die minister van Dirco die inisiatief geneem het om aan die ministerie van binnelandse sake te skryf om hierdie vereiste kwyt te skeld, maar dit kon eensydig deur binnelandse sake op humanitêre gronde geïmplementeer gewees het.”
Die organisasie het ook bevestig dat dit, saam met ander burgerlike samelewingsgroepe, humanitêre ondersteuning aan die vlugtelinge sal verleen. Individue en spanne wat ter plaatse hulp in die situasie gebied het, is bedank.
Druk hier om die regering se verklaring te lees.





