KWAZULU-NATAL. – ‘n Verjaardagbraai in Ghandi Park in Phoenix het Saterdag sleg geeïndig toe partytjiegangers deur drie gewapende verdagtes beroof is.
KZN VIP Protection Services sê ‘n groep vriende het ‘n verjaardag met ‘n braai in ‘n park gevier. Drie verdagte mans, een met ‘n vuurwpaen en twee met messe, het hulle genader en waardevolle items geeïs.
‘n Vroulike partytjieganger is gedwing om te ontklee. Ander kon vlug en het ‘n reaksievoertuig in Phoenix-hoofweg naby die basis van KZN VIP voorgekeer.
Met aankoms van VIP op die toneel het die verdagtes op die reaksiebeamptes in die voertuig geskiet en na bosse oorkant die rivier gevlug. Reaksiebeamptes het hulle agtervolg, maar die verdagtes kon in die digte bosse ontsnap. Waardevolle items is van die slagoffers gesteel.
Geen fisiese beserings is opgedoen nie, maar die slagoffers was getraumatiseer.





