GAUTENG. – Die Sophiatown-polisie ondersoek ’n skietvoorval in Westbury waar sewe tieners, tussen 13 en 19, vanmiddag (Dinsdag) in Croesusstraat geskiet is. Twee van hulle is noodlottig gewond, terwyl vyf hospitaalbehandeling ontvang.
Brig. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring vier verdagtes, van wie drie bewapen, het glo die groep tieners genader. Die verdagtes het glo sonder om iets te sê op die slagoffers begin skiet en daarna van die toneel gevlug. Twee van die slagoffers is met aankoms by die hospitaal dood verklaar en vyf ontvang tans mediese behandeling.
Voorlopige verslae dui daarop dat die skietvoorval bendeverwant is. Na bewering is die sewe slagoffers deur verdagtes geskiet wat vermoedelik aan ’n mededingende bende behoort. Die provinsiale teenbende-eenheid is op die toneel saam met forensiese deskundiges. Die distriksmisdaadintelligensie-eenheid is gemobiliseer om die teenbende-eenheid met die opsporing van die verdagtes te help.





