MPUMALANGA. – Die polisie het kort gelede bekend gemaak twee mans, onderskeidelik 42 en 56 jaar oud, wat in Low’s Creek buite Nelspruit vermis geraak het, se liggame is gevind.
Kol. Donald Mdhluli sê die polisiehelikopter en ‘n lid van die publiek het gister die mans se liggame opgemerk. Met die onbegaanbaarheid van die gebied moes polisiemotorfietse se hulp ingeroep word.
Die verskeie polisie-eenhede wat die soektog meegemaak het, asook ‘n plaaslike herder en sy hond wat tot die opsporing van die liggame gelei het, is geprys.
“‘n Span deskudiges is reeds aangestel om die omstandighede rondom hierdie vreemde voorval te ondersoek. ’n Deel van die ondersoek sal daarop fokus om duidelikheid te kry oor omstandighede wat tot hul dood gelei het.”
Die publiek en familielede van die oorledenes word tot kalmte gemaan sodat ondersoekers hul werk kan doen.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Twee mans van Pienaar het om ‘n rede wat ondersoek word, die afgeleë gebied in die berg van Low’s Creek buite Mbombela (Nelspruit) besoek en vermis geraak. Daar word nog na hulle gesoek.
Kol. Donald Mdhluli sê die twee het reeds verlede week in die gebied vermis geraak, waarna na hulle gesoek is. Omdat die beboste, afgeleë en uitdagende gebied onbegaanbaar is, moes die polisiehelikopter Donderdag vir die soektog ingespan word. Die soektog het tot dusver niks opgelewer nie.
Enigiemand met inligting oor die vermiste persone word gevra om na vore te kom.