VRYSTAAT. – ‘n Pastoor (47) van Edenburg is Vrydag deur die Edenburg-streekhof op twee aanklagte van verkragting en nog een van seksuele aanranding van ‘n minderjarige (12) skuldig bevind. Die beskuldigde is twee keer lewenslank en addisioneel nog vyf jaar tronkstraf opgelê.
Sers. Martin Xuma, polisiewoordvoerder, sê die slagoffer het by die beskuldigde gewoon toe die voorvalle in 2019 begin het. Gedurende die skoolvakansie van 2022 het die slagoffer vir haar pa vertel dat, wanneer die pastoor se vrou nagskofte gewerk het, sy ‘n slagoffer van sy misdade geword het. ‘n Saak is by die polisie aanhangig gemaak en aan speur.sers. Isaac Ntsepe van Trompsburg-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings toegewys. Sy ondersoek het tot die skuldigbevinding en vonnis van die beskuldigde gelei.
Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word. Die beskuldigde is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





