KWAZULU-NATAL. – ’n Pensioenaris (63) het hom Sondag omstreeks 16:30 met ‘n pot aartappelkerrie verdedig toe ’n man hom in sy huis in Towerweg, Watsonia, aangeval het. Die pensioenaris was alleen en besig om kos te maak toe die man deur die voordeur ingekom het. Die veiligheidshek was oop.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê die man het die pensioenaris met ’n metaalvoorwerp wat vir gebed gebruik word, aangerand. Die pensioenaris het die aartappelkerrie wat hy besig was om te kook na die man gegooi en hom met die pot geslaan. Die man het hom met kontant uit die pensioenaris se beursie en ’n selfoon uit die voete gemaak. Die pensioenaris het kopbeserings opgedoen en is in ’n private voertuig hospitaal toe geneem. Rusa het ’n uitgebreide soektog na die verdagte van stapel gestuur.