GAUTENG. – Die Gautengse departement van onderwys (GDO) het die uitspraak van die hooggeregshof in die saak teen die skoolbeheerliggaam van Pretoria High School for Girls verwelkom. Volgens die departement bring die uitspraak duidelikheid en stel dit alle partye in staat om te fokus op die kerndoel – die ontwikkeling van die leerlinge en die skool.
Steve Mabona, GDO-woordvoerder, sê die hof het die interimversoek van die beheerliggaam om toegang tot die departement se ondersoekverslag te verkry, van die hand gewys. Die verslag is ná bewerings van rassisme teen leerlinge by die skool deur die GDO opgestel. Die beheerliggaam het aangevoer dat die verslag nodig is vir hulle saak. Die hof het beklemtoon dat die verslag nie onder Reël 53 val nie. Toegang tot sulke inligting moet volgens die wet op bevordering van toegang tot inligting (Paia) versoek word. Die hof het ook gesê dat die poging om die verslag via die hof te bekom in plaas van deur Paia nie toepaslik was nie en dit as “forum shopping” beskou.
Die GDO moedig die beheerliggaam aan om nou te fokus op goeie bestuur van die skool, die gladde werking van skoolprosesse en die skep van ’n veilige en ondersteunende omgewing vir alle leerders. Die departement beklemtoon dat baie kwessies deur samewerking en dialoog opgelos kan word sonder om die hof te betrek. Die GDO sê dit bly verbind tot die ondersteuning van Pretoria High School for Girls in sy doel om transformasie, stabiliteit en uitnemendheid te bereik en om ’n kultuur van respek, regverdigheid en waardigheid vir elke leerder te kweek.





