Plaasaanval – moord, roof en ontvoering ruk boeregemeenskap

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

MPUMALANGA. – Nico Steyn se liggaam is Vrydagoggend onder ‘n bakkiekap buite die huis op Bosmanspan, Hendrina, wat hy met sy ouers deel, ontdek. Piet Steyn is in ‘n kattebak van ‘n voertuig gevind en Sannie Steyn is in ‘n informele nedersetting opgespoor.

Brig. Donald Mdhluli sê aan Nuusflits ‘n buurman het ‘n oproep van die oorledene se werkgewer ontvang, wat gesê het hy het nie vir werk opgedaag nie. Die buurman het ondersoek ingestel en op die grusame toneel afgekom. Die polisie is ontbied, waarna die liggaam van die oorledene onder die kap van ‘n bakkie ontdek is. Piet Steyn, die oorledene se pa, is in ‘n voertuig se kattebak in die motorhuis op die eiendom gevind. Sannie Steyn, die oorledene se ma, wat ontvoer is, is beseer in ‘n voertuig in Embalenhle- informele nedersetting in Secunda aangetref.

Mdhluli het bevestig die rooftog het reeds Donderdagaand plaasgevind. Die verdagtes het glo met verskeie items, insluitend selfone, van die toneel gevlug. Vier selfone is teruggevind. Die verdagtes is steeds op vrye voet en die ondersoek duur voort. Enigiemand met relevante inligting word gevra om na vore te kom.

Volgens Middelburg Observer is beide Piet en Sannie Steyn in hul 80’s.

Die VF Plus in Mpumalanga is geskok oor die misdaad:

Die VF Plus spreek sy skok en medelye uit nadat ‘n vermoorde man se liggaam buite sy woning op die plaas Bosmanspan in Hendrina gevind is. Mnr. Nico Steyn se bejaarde pa Piet is ná ‘n soektog in die kattebak van ’n voertuig in ’n motorhuis gevind.

Die moordenaars het daarna na bewering sy eggenote Sannie ontvoer. Die voertuig is met ’n beseerde vrou daarin, intussen by ’n informele nedersetting in Secunda opgespoor. Die egpaar ontvang tans mediese hulp.

Die VF Plus wens hulle ‘n spoedige herstel toe en sal druk toepas op die polisie om te verseker dat die verdagtes opgespoor en vervolg word.

Bronne: SAPD, VF Plus Mpumalanga, Caxton Network News

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief