VRYSTAAT. – Vier gemaskerde mans het na bewering ’n vrou en haar dogter tydens ’n huisroof op ‘n plaas in die Ladybrand omgewing met ’n vuurwapen gedreig, die vrou se man vasgebind en met drie selfone op die vlug geslaan.
AO Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits Maletsatsi Mokelela (48) het die huis opgepas en die honde gevoer terwyl die plaaseienaars met vakansie was. Een van die mans het glo ’n vuurwapen op Mokelela en haar dogter gerig. Die mans het hulle beveel om in die gang te bly en geld en vuurwapens geëis. Nadat hulle nie die muurkluis kon oopkry nie, het hulle die huis deursoek. Toe Mokelela se man, Seabata Khasipe, daar aankom, het hulle glo sy hande met draad vasgebind en hom in ’n aparte kamer aangehou. Die verdagtes het te voet gevlug.
Volgens die polisie word ’n saak van huisroof ondersoek. Geen inhegtenisnemings is tot dusver gemaak nie.